As ’n Christelike kerk is Sewendedag Adventiste ’n geloofsgemeenskap gevestig op die geloofsbeginsels uiteengesit in God se Woord. Sewendedag Adventiste beskryf hierdie geloofsbeginsels op die volgende maniere:

God se grootste begeerte is dat jy ’n duidelike beeld van Sy karakter sal sien. Wanneer jy Hom duidelik sien, sal Sy liefde vir jou onmoontlik word om teen te staan. Vir baie beteken “om God duidelik te sien” om God se gesig te sien. Hoe Hy lyk is egter nie die punt nie. Die belangrikste is om Sy karakter te sien en te verstaan. Hoe duideliker ons Hom verstaan, hoe meer oorheersend word Sy liefde vir ons. Hoe meer ons van Sy liefde begin ervaar, hoe meer sal ons eie lewens begin sin maak.

Wanneer alles lyk of dit wil uitmekaarval, wanneer jy alleen in die heelal voel, is Jesus midde dit alles om persoonlik vrede en hoop te bied. Laat Hom toe in jou lewe. Hy begin onmiddellik weer “modelleer” wie jy is en hoe jy lewe. Om die waarheid te sê, Jesus is altyd hard besig om Sy volgelinge te omvorm tot getroue verteenwoordigers van God se karakter. Kyk na Jesus en jy sal die gesig van God sien, liefdevol en vol begrip.

Grondbeginsels van die Sewendedag Adventiste
Click here for an English version

1. Die Heilige Skrif
Die Heilige Skrif, Ou en Nuwe Testament, is die geskrewe Woord van God, deur middel van Goddelike ingewing gegee deur heilige mense van God wat gespreek en geskryf het soos hulle deur die Heilige Gees gedrywe is. In hierdie Woord het God aan die mensdom die kennis toevertrou wat noodsaaklik vir die saligheid is. Die Heilige Skrif is die onfeilbare openbaring van Sy wil. Dit is die standaard van die karakter, die toets van die ondervinding, die gesaghebbende openbaarder van leerstelings, en die betroubare verslag van die dade van God in die geskiedenis. (2 Pet. 1:20, 21; 2 Tim. 3:16, 17; Ps. 119:105; Spr. 30:5, 6; Jes. 8:20; Joh. 17:17; 1 Thess. 2:13; Heb. 4:12.)

2. Die drie-eenheid
Daar is een God: Vader, Seun en Heilige Gees, ‘n eenheid van drie mede-ewige Persone. God is onsterflik, almagtig, alwetend, bo alles, en altyd teenwoordig. Hy is oneindig en buite die begripsvermoë van die mens, tog bekend deur Sy self-openbaring. Hy is vir altyd die aanbidding, die verering en die diens van die hele skepping waardig. (Deut. 6:4; Matt. 28:19; 2 Kor. 13:14; Efe. 4:4-6; 1 Petrus1:2; 1 Tim. 1:17; Openb. 14:7.)

3. Die Vader
God die ewige Vader is die Skepper, Bron, Onderhouer, en Heerser van die ganse skepping. Hy is regverdig en heilig, barmhartig en genadig, lankmoedig, en loop oor van onwankelbare liefde en getrouheid. Die deugde en eienskappe wat in die Seun en die Heilige Gees vertoon word, is ook openbarings van die Vader. (Gen. 1:1; Openb. 4:11; 1 Kor. 15:28; Joh. 3:16; 1 Joh. 4:8; 1 Tim. 1:17; Ex. 34:6,7; Joh. 14:9.)

4. Die Seun
God die ewige Seun het in Jesus Christus vlees geword. Deur Hom is alle dinge geskep, word die karakter van God geopenbaar, die verlossing van die mensdom volbring, en die wêreld geoordeel. Vir ewig waarlik God, het Hy ook waarlik mens, Jesus die Christus, geword. Hy is deur die Heilige Gees ontvang en uit die Maagd Maria gebore. Hy het soos ‘n mens gelewe en versoeking ondervind, maar die geregtigheid en liefde van God volmaak beliggaam. Deur Sy wonderwerke het Hy Gods krag geopenbaar en is Hy as die beloofde Messias van God bevestig. Hy het vrywillig vir ons sondes en in ons plek aan die kruis gely en gesterf, is uit die dode opgewek, en het opgevaar om in die hemelse heiligdom vir ons in te tree. Hy sal in heerlikheid terugkeer vir die finale verlossing van Sy volk en die herstel van alle dinge. (Joh. 1:1-3, 14; Kol. 1:15-19; Joh. 10:30; 14:9; Rom.. 6:23; 2 Kor. 5:17-19; Joh. 5:22; Luk. 1:35; Fil. 2:5-11; Heb. 2:9-18; 1 Kor. 15:3, 4; Heb. 8:1, 2; Joh. 14:1-3.)

5. Die Heilige Gees
God die ewige Gees was aktief saam met die Vader en die Seun in die skepping, vleeswording, en verlossing. Hy het die skrywers van die Skrif geïnspireer. Hy het Christus se lewe met krag gevul. Hy trek mense aan en oortuig hulle; en diegene wat reageer, hernu en verander Hy na die beeld van God. Hy is deur die Vader en die Seun gestuur om altyd by Sy kinders te wees, Hy gee geestelike gawes aan die Kerk, versterk dit om van Christus te getuig, en, in ooreenstemming met die Skrif, lei Hy dit in die hele waarheid. (Gen. 1:1,2; Luk. 1:35; 4:18; Hand. 10:38; 2 Pet.1:21; 2 Kor. 3:18; Efe. 4:11, 12; Hand. 1:8; Joh. 14:16-18, 26; 15:26, 27; 16:7-13.)

6. Die Skepping
God is die Skepper van alle dinge, en het in die Skrifte die egte weergawe van Sy skeppingsdade geopenbaar. In ses dae het die Here die hemel en die aarde en alle lewende dinge op die aarde gemaak, en op die sewende dag van daardie eerste week gerus. So het Hy die Sabbat as ‘n ewige gedenkteken van Sy voltooide skeppingswerk ingestel. Die eerste man en die eerste vrou is na die beeld van God gemaak as die kroon van die Skepping; aan hulle is heerskappy oor die aarde gegee, en hulle is belas met die verantwoordelikheid om daarvoor te sorg. Nadat die wereld voltooi is, was dit baie goed, en het die heerlikheid van God verkondig. (Gen. 1; 2; Ex. 20:8-11; Ps. 19:1-6; 33:6, 9; 104; Heb. 11:3.)

7. Die menslike natuur
Die man en die vrou is na die beeld van God geskape, met individualiteit en die vermo om te dink en te doen. Alhoewel hulle as vrye wesens geskape is, is elkeen ‘n onverdeelbare eenheid van liggaam, verstand en siel, wat van God afhanlik is vir die lewe, en asem en vir alle ander dinge. Toe ons eerste ouers ongehoorsaam aan God was, het hulle hul afhanklikheid van Hom ontken, en van hul hoë posisie onder God geval. Die beeld van God in hulle is geskend en hulle het aan die dood onderworpe geword. Hulle nakomgelinge deel in hierdie gevalle natuur en die gevolge daarvan. Hulle word met swakhede en neigings tot die sonde gebore. Maar God het die wêreld in Christus met Homself versoen en Sy Gees herstel die beeld van hul Maker in berouvolle sterflinge. Tot die heerlikheid van God geskape, word hulle opgeroep om Hom en mekaar lief te hê en om vir hul omgewing te sorg. (Gen. 1:26-28; 2:7; Ps. 8:4-8; Hand. 17:24-28; Gen. 3; Ps. 51:5; Rom. 5:12-17; 2 Kor. 5:19,20; Ps. 51:10; 1 Joh. 4:7,8,11,20; Gen. 2:15.)

8. Die Grootstryd
Die ganse mensdom is nou betrokke in ‘n stryd tussen Christus en Satan betreffende die karakter van God, Sy wet, en Sy heerskappy oor die heelal. Hierdie konflik het in die hemel sy oorsprong toe ‘n geskape wese, toegerus met die vryheid van keuse, in selfverheffing die Satan, Gods vyand, geword het, en hy ‘n deel van die engele tot opstand gelei het. Hy het die gees van opstand na die aarde gebring toe hy Adam en Eva laat sondig het. Die gevolg van hierdie menslike sonde was dat die beeld van God in die mens geskend is, die ontwrigting van orde in die geskape wêreld, en uiteindelike vernietiging daarvan tydens die wêreldwye sondvloed. Ten aanskoue van die ganse heelal het hierdie aarde die arena van universele konflik geword, waaruit die God van liefde uiteindelik geregverdig sal word. Om Sy volk in hierdie groot stryd by te staan, stuur Christus die Heilige Gees en die lojale engele om hulle op die weg van verlossing te lei, te beskerm, en te ondersteun. (Openb. 12:4-9; Jes. 14:12-14; Ese. 28:12-18; Gen. 3; Rom. 1:19-32; 5:12-21; 8:19-22; Gen. 6:8; 2 Petrus 3:6; 1 Kor. 4:9; Heb. 1:14.)

9. Die lewe, dood en opstanding van Christus
In Christus se lewe van volkome gehoorsaamheid aan die wil van God, het God die enigste versoenmiddel vir menslike sonde voorsien, sodat diegene wat hierdie versoening in geloof aanneem, die ewige lewe kan hê en sodat die hele skepping die oneindige en heilige liefde van die Skepper beter kan verstaan. Hierdie volkome versoening regverdig die geregtigheid van Gods wet en die barmhartigheid van Sy karakter; want dit veroordeel ons sonde terwyl dit ook voorsiening maak vir ons vergifnis. Die dood van Christus is plaasvervangend en boetend, versoenend en hervormend. Die opstanding verkondig God se oorwinning oor die magte van die boosheid, en vir diegene wat die versoening aanvaar, verseker dit hul uiteindelike oorwinning oor sonde en die dood. Dit verklaar die Heerskappy van Jesus Christus, voor wie elke knie in die hemel en op aarde sal buig. (Joh..3:16; Jes. 53; 1 Petrus. 2:21. 22; 1 Kor. 15:3, 4, 20-22; 2 Kor. 5:14,15; 19-21; Rom. 1:4; 3:25; 4:25; 8:3, 4; 1 Joh. 2:2; 4:10; Kol. 2:15; Fil. 2:6-11.)

10. Verlossing
In oneindige liefde en genade het God Christus, wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons in Hom die geregtigheid van God gemaak kan word. Deur die Heilige Gees gelei, besef ons ons behoefte, erken ons ons sondigheid, het ons berou oor ons oortredinge, en beoefen ons geloof in Jesus as Here en Christus, as ons Plaasvervanger en ons Voorbeeld. Hierdie geloof wat verlossing aanneem kom deur die Goddelike krag van die Woord en is ‘n gawe van Gods genade. Deur Christus is ons geregverdig, aangeneem as seuns en dogters van God, en verlos van die heerskappy van die sonde. Deur die Gees is ons weer gebore en geheilig; die Gees hernu ons verstand, skryf Gods wet van liefde in ons hart, en ons word die krag gegee om ‘n heilige lewe te lei. Waar ons in Hom bly, word ons deelgenote aan die Goddelike natuur en het ons die versekering van verlossing nou en in die oordeel. (2 Kor. 5:17-21; Joh. 3:16; Gal. 1:4; 4:4-7; Titus 3:3-7; Joh. 16:8; Gal. 3:13, 14; 1 Petrus 2:21, 22; Rom. 10:17; Lukas 17:5; Markus 9:23, 24; Efe. 2:5-10; Rom. 3:21-26; Kol. 1:13, 14; Rom 8:14-17; Gal. 3:26; Joh. 3:3-8; 1 Petrus 1:23; Rom. 12:2; Heb. 8:7-12; Ese. 36:25-27; 2 Petrus 1:3, 4; Rom. 8:1-4; 5:6-10.)

11. Om in Christus te groei
Jesus het met sy kruisdood oor die mag van die bose getriomfeer. Hy het die demone tydens sy aardse bediening onderwerp, hul mag verbreek en hul uiteindelike lot verseker. Jesus se oorwinning gee ons die oorwinning oor die bose magte wat steeds poog om ons te beheer, want ons wandel saam met Hom in vrede, vreugde en die versekering van sy liefde. Die Heilige Gees woon nou in ons en bemagtig ons. Deur ons volgehoue oorgawe aan Jesus as ons Verlosser en Heer, word ons kwytgeskeld van die las van ons dade van die verlede. Ons lewe nie meer in die duister, die vrees vir bose magte, onkunde en leegheid van ons vorige bestaan nie. In hierdie nuwe vryheid wat Jesus bied, word ons gevra om op te was in die beeld van sy karakter, daagliks tot Hom in die gebed te gaan, sy Woord en sy voorsienigheid te bepeins, Hom lof toe te sing, saam te kom vir aanbidding en om deel te neem aan die sending van die Kerk. Namate ons onsself in liefdesdiens aan ander gee en van sy verlossing getuig, verander sy teenwoordigheid deur die Gees elke oomblik en elke taak in ‘n geestelike ondervinding. (Ps 1:1, 2; 23:4; 77:11, 12; Kol 1:13, 14; 2:6, 14, 15; Luk 10:17-20; Efe 5:19, 20; 6:12-18; 1 Tess 5:23; 2 Pet 2:9; 3:18; 2 Kor. 3:17, 18; Fil 3:7-14; 1 Tess 5:16-18; Matt 20:25-28; Joh 20:21; Gal 5:22-25; Rom 8:38, 39; 1 Joh 4:4; Heb 10:25.)

12. Die Kerk
Die kerk is die gemeenskap van gelowiges wat Jesus Christus as Heer en Verlosser bely. In aaneenskakeling met die volk van God in die Ou-Testamentiese tye, word ons uit die wêreld uitgeroep; en ons kom saam om te aanbid, vir gemeenskap, vir onderrig in die Woord, vir die viering van die Nagmaal, vir diens aan die ganse mensdom, en vir die wêreldwye verkondiging van die evangelie. Die kerk kry sy gesag van Christus, wat die vleesgeworde Woord is, en uit die Skrif, wat die geskrewe Woord is. Die kerk is die huishouding van God; deur Hom as Sy kinders aangeneem, lewe die lede op die basis van die nuwe verbond. Die kerk is die liggaam van Christus, ‘n gemeenskap van gelowiges waarvan Christus self die Hoof is. Die kerk is die bruid vir wie Christus gesterf het sodat Hy haar kan heilig en reinig. By Sy terugkeer in triomf, sal Hy haar as verheerlikte gemeente voor Hom stel, die getroues van alle eeue, die gekooptes deur Sy bloed, sonder vlek of rimpel, maar heilig en sonder gebrek. (Gen. 12:3; Hand. 7:38; Efe. 4:11-15; 3:8-11; Matt. 28:19, 20; 16:13-20; 18:18; Efe. 2:19-22; 1:22, 23; 5:23-27; Kol. 1:17, 18.)

13. Die oorblyfsel en haar missie
Die universele kerk bestaan uit al diegene wat waarlik in Christus glo, maar in die laaste dae – ‘n tyd van wydverspreide afvalligheid – is ‘n oorblyfsel uitgeroep wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar. Die oorblyfsel kondig die oordeelsuur aan, verkondig verlossing deur Christus, en kondig die nadering van Sy tweede advent aan. Hierdie verkondiging word deur die drie engele van Openbaring 14 gesimboliseer; dit val saam met die oordeelswerk in die hemel en loop uit in ‘n werk van bekering en hervorming op die aarde. Elke gelowige word geroep om ‘n persoonlike deel aan hierdie wêreldwye getuienis te hê. (Openb. 12:17; 14:6-12; 18:1-4; 2 Kor. 5:10; Judas 3, 14; 1 Petrus 1:16-19; 2 Petrus 3:10-14; Openb. 21:1-14.)

14. Eenheid in die liggaam van Christus
Die kerk is een liggaam met baie lede, uit elke nasie, stam, taal en volk. In Christus is ons ‘n nuwe skepping; verskille van ras, kultuur, geleerdheid, nasionaliteit, en verskille tussen hoës en laes, rykes en armes, manne en vroue, moet nie verdelend onder ons wees nie. Ons is almal gelyk in Christus, wat ons deur een Gees saamgebind het tot een gemeenskap met Hom en met mekaar; ons moet dien en bedien word sonder begunstiging of terughouding. Deur die openbaring van Jesus Christus in die Skrif is ons deelgenote aan dieselfde geloof en hoop, en lewer ons een getuienis voor almal. Hierdie eenheid het sy oorsprong in die eenheid van die drie-enige God, wat ons as Sy kinders aangeneem het. (Rom. 12:4, 5; 1 Kor. 12:12-14; Matt. 28:19, 20; Ps. 133:1; 2 Kor. 5:16, 17; Hand. 17:26, 27; Gal. 3:27, 29; Kol. 3:10-15; Efe. 4:14-16; 4:1-6; Joh. 17:20-23.-23.)

15. Die Doop
Deur die doop bely ons ons geloof in die dood en opstanding van Jesus Christus, en getuig van ons dood tot die sonde en ons voorneme om in ‘n nuwe lewe te wandel. So erken ons Christus as Heer en Verlosser, word ons Sy volk, en word ons as lede deur Sy kerk aangeneem. Die doop is ‘n simbool van ons eenheid met Christus, die vergifnis van ons sondes, en ons ontvangs van die Heilige Gees. Dit geskied deur indompeling in water en is afhanklik van ‘n bevestiging van geloof in Jesus en die bewys van berou oor sondes. Dit volg op onderrig in die Skrif en aanname van wat dit leer. (Rom. 6:1-6; Kol. 2:12, 13; Hand. 16:30-33; 22:16; 2:38; Matt. 28:19, 20.)

16. Die Nagmaal
Die Nagmaal is ‘n deelname aan die embleme van die liggaam en bloed van Jesus as ‘n uitdrukking van geloof in Hom, ons Here en Verlosser. In hierdie belewenis van gemeenskap, is Christus teenwoordig om Sy volk te ontmoet en te versterk. Wanneer ons daarvan eet, verkondig ons met blydskap die Here se dood tot Hy weer kom. Voorbereiding vir die Avondmaal sluit selfondersoek, berou en belydenis in. Die Meester het die diens van die voetewassing ingestel om hernude reiniging voor te stel, om ‘n gewilligheid te toon om die een die ander met Christelike nederigheid te dien, en om ons harte in liefde te verenig. Die Nagmaal is oop vir alle gelowige Christene. (1 Kor. 10:16, 17; 11:23-30; Matt. 26:17-30; Openb. 3:20; Joh. 6:48-63; 13:1-17.)

17. Geestelike gawes en bediening
God skenk in elke eeu aan al die lede van Sy kerk geestelike gawes wat deur elke lidmaat gebruik moet word in liefdevolle diens vir die gesamentlike voordeel van die kerk en van die mensdom. Deur middel van die Heilige Gees, wat aan elkeen gee soos Hy wil, verskaf die gawes al die bekwaamhede en dienste wat die kerk nodig het om sy deur God geordende funksies te volbring. Volgens die Skrif sluit hierdie gawes sulke bediening in soos geloof, gesondmaking, profesie, verkondiging, lering, administrasie, versoening, medelyde, en selfopofferende diens en liefdadigheid vir die hulp en bemoediging van mense. Sommige is deur God geroep en deur die Gees toegerus vir funksies wat deur die kerk erken word in pastorale, evangelisasie, apostoliese en onderrigtende dienste wat in die besonder nodig is om die lidmate vir diens toe te rus, om die kerk tot geestelike volwassenheid op te bou, en om die eenheid van die geloof en kennis van God te koester. Wanneer lidmate hierdie geestelike gawes gebruik as getroue rentmeesters van God se veelsydige genade, word die kerk teen die vernietigende invloed van valse leerstellings beskerm, groei dit met ‘n opwassing wat van God kom, en word dit in geloof en liefde gebou. (Rom. 12:4-8; 1 Kor. 12:9-11, 27, 28; Efe. 4:8, 11-16; Hand. 6:1-7; 1 Tim. 3:1-13; 1 Petrus 4:10, 11.)

18. Die gawe van profesie
Een van die gawes van die Heilige Gees is profesie. Hierdie gawe is een van die kenmerke van die oorblyfselkerk en dit is in die bediening van Ellen G. White geopenbaar. As boodskapster van die Here, is haar skrywe ‘n voortdurende en gesaghebbende bron van waarheid en voorsien dit die kerk van vertroosting, leiding, onderrig, en teregwysing. Dit leer ook duidelik dat die Bybel die maatstaf is waarvolgens alle lering en ondervinding getoets moet word. (Joël 2:28, 29; Hand. 2:14-21; Heb. 1:1-3; Openb. 12:17; 19:10.)

19. Die Wet van God
Die groot beginsels van Gods wet word in die Tien Gebooie omvat en in die lewe van Christus beliggaam. Dit betuig die liefde, wil en doel van God met betrekking tot menslike gedrag en die verhoudinge wat vir alle mense in alle eeue verpligtend is. Hierdie grondreëls is die grondslag van Gods verbond met Sy volk en die maatstaf in Sy oordeel. Deur die bemiddeling van die Heilige Gees wys dit sonde uit en laat dit ‘n bewustheid van die behoefte aan ‘n Verlosser ontstaan. Die verlossing is enkel uit genade en nie uit werke nie, maar sy vrug is gehoorsaamheid aan die Gebooie. Hierdie gehoorsaamheid ontwikkel die Christelike karakter en lei tot ‘n welsynsgevoel. Dit is ‘n bewys dat ons die Here liefhet en oor ons medemense begaan is. Die gehoorsaamheid van geloof is ‘n bewys van die krag van Christus om lewens te verander en om dié rede versterk dit die Christelike getuienis. (Exod. 20:1-17; Ps. 40:7, 8; Matt. 22:36-40; Deut. 28:1-14; Matt. 5:17-20; Heb. 8:8-10; Joh. 15:7-10; Efe. 2:8-10; 1 Joh. 5:3; Rom. 8:3, 4; Ps. 19:7-14.)

20. Die Sabbat
Na ses dae van skeppingswerk het die welddadige Skepper op die sewende dag gerus en die Sabbat vir alle mense as gedenkteken van die skepping ingestel. Die vierde gebod van Gods onveranderlike wet vereis dat die sewendedag-Sabbat as dag van rus, aanbidding en bediening gevier moet word in ooreenstemming met wat Jesus, die Here van die Sabbat, geleer en gedoen het. Die Sabbat is ‘n dag van genoeglike gemeenskap met God en met mekaar. Dit is ‘n simbool van ons verlossing in Christus, ‘n teken van ons heiliging, ‘n bewys van ons trou en ‘n voorsmaak van ons ewige toekoms in die koninkryk van God. Die Sabbat is Gods voortdurende teken van Sy ewige verbond tussen Hom en Sy volk. Die vreugdevolle onderhouding van hierdie heilige tyd van aand tot aand, sononder tot sononder, is ‘n viering van die skeppings- en die reddingsdaad van God. (Gen. 2:1-3; Exod. 20:8-11; Lukas 4:16; Jes. 56:5, 6; 58:13, 14; Matt. 12:1-12; Ex. 31:13-17; Ese. 20:12, 20; Deut. 5:12-15; Heb. 4:1-11; Lev. 23:32; Markus 1:32.)

21. Rentmeesterskap
Ons is God se rentmeesters, deur Hom met tyd en geleenthede, bekwaamhede en besittings, en die seëninge van die aarde en al sy bronne toevertrou. Ons is aan Hom verantwoordelik vir hul behoorlike gebruik. Ons erken Sy eienaarskap deur getroue diens aan Hom en ons medemens, en deur tiendes en offergawes vir die verkondiging van Sy evangelie en die ondersteuning en uitbreiding van Sy kerk aan Hom terug te gee. Rentmeesterskap is ‘n voorreg wat ons van God ontvang het vir versorging en liefde en die oorwinning oor selfsug en hebsug. Die rentmeester verbly hom in die seëninge wat andere ontvang as gevolg van sy getrouheid. (Gen. 1:26-28; 2:15; 1 Kron. 29:14; Haggai 1:3-11; Mal. 3:8-12; 1 Kor. 9:9-14; Matt. 23:23; 2 Kor. 8:1-15; Rom. 15:26, 27.)

22. Christelike gedrag
Ons is geroep om ‘n Goddelike volk te wees wat in ooreenstemming met die beginsels van die hemel dink, voel en handel. Vir die Gees om die karakter van onse Here in ons te herskep, is ons met daardie dinge alleen gemoeid wat reinheid, gesondheid, en vreugde in ons lewens sal bewerkstellig. Dit beteken dat ons vermaak en pret die hoogste standaard van Christelike smaak en skoonheid moet nakom. Terwyl ons kulturele verskille erken, is ons kleredrag eenvoudig, beskeie, en netjies, paslik by diegene wie se ware skoonheid nie uit uiterlike versiering bestaan nie maar uit die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees. Dit beteken ook, omdat ons liggame die tempels van die Heilige Gees is, dat ons hulle op intelligente wyse moet versorg. Saam met voldoende oefening en rus, moet ons die gesondste dieet volg wat moontlik is en ons van onreine voedsel onthou soos in die Skrif uitgewys. Aangesien alkoholiese drank, tabak, en die onverantwoordelike gebruik van dwelm- en verdowingsmiddels skadelik vir ons liggame is, moet ons ons daarvan ook onthou. Instede daarvan moet ons ons besig hou met wat ons gedagtes en liggame onder die dissipline van Christus plaas, wat vir ons heilsaamheid, geluk en goedheid begeer. (Rom. 12:1, 2; 1 Joh. 2:6; Efe. 5:1-21; Fil. 4:8; 2 Kor. 10:5; 6:14-7:1; 1 Petrus 3:1-4; 1 Kor. 6:19, 20; 10:31; Lev. 11:1-47; 3 Joh. 2.)

23. Die Huwelik en die gesin
Die huwelik is in Eden deur God ingestel en deur Jesus bevestig as ‘n lewenslange verbintenis tussen ‘n man en ‘n vrou in ‘n liefdevolle kameraadskap. Vir die Christen is die huweliksverpligting sowel teenoor God as teenoor die gade, en dit behoort net tussen mense van dieselfde geloof aangegaan te word. Wedersydse liefde, eer, respek en verantwoordelikheid, is die raamwerk van hierdie verhouding, wat die liefde. Heiligheid, nabyheid en permanensie van die verhouding tussen Christus en Sy kerk weerspieël. Wat egskeiding betref, het Jesus geleer dat die persoon wat ‘n gade skei, behalwe oor egbreuk, en met ‘n ander trou, egbreuk pleeg. Al sou sommige huwelike nie by die ideaal bykom nie, kan huweliksgenote wat hulleself ten volle aan mekaar oorgee in Christus, ‘n liefdevolle eenheid bereik deur middel van die leiding van die Heilige Gees en die versorging van die kerk. God seën die gesin en wil hê dat die lede mekaar moet aanhelp tot meer volkome volwassenheid. Ouers moet hul kinders so grootmaak dat hulle die Here liefhet en gehoorsaam is. Deur hulle voorbeeld en hul woorde moet hulle hul kinders leer dat Christus ‘n liefdevolle tugmeester is, altyd teer en besorg, wat wil hê hulle moet lede van Sy liggaam word, die huishouding van God. Toenemende gesinsgehegtheid is een van die merktekens van die finale evangelieboodskap. (Gen. 2:18-25; Matt. 19:3-9; Joh. 2:1-11; 2 Kor. 6:14; Efe. 5:21-33; Matt. 5:31, 32; Markus 10:11, 12; Luk. 16:18; 1 Kor. 7:10, 11; Ex. 20:12; Efe. 6:1-4; Deut. 6:5-9; Spr. 22:6; Mal. 4:5, 6.)

24. Christus se bediening in die Heiligdom
Daar is ‘n heiligdom in die hemel, die ware tabernakel wat die Here opgerig het en nie ‘n mens nie. Daarin tree Christus vir ons in, en stel Hy tot die beskikking van die gelowiges, die voordele van Sy soenoffer wat Hy eens en vir altyd aan die kruis geoffer het. Hy is ingehuldig as ons groot Hoëpriester en Hy het Sy middelaarswerk by Sy hemelvaart begin. In 1844, aan die einde van die profetiese tydperk van 2 300 dae, het Hy die tweede en laaste fase van Sy versoeningswerk ingegaan. Dit is ‘n werk van ondersoekende oordeel wat deel is van die uiteindelike wegdoening van alle sonde, getipeer deur die reiniging van die ou Hebreeuse heiligdom op die Versoendag. In daardie tiperende diens is die heiligdom deur die bloed van diereoffers gereinig, maar die hemelse dinge word met die volmaakte offer van die bloed van Jesus gereinig. Die ondersoekende oordeel openbaar aan hemelse wesens wie onder die dode in Christus Jesus slaap, en daarom, in Hom, waardig geag word om deel te hê aan die eerste opstanding. Dit openbaar ook wie, onder die lewendes, in Christus bly, wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar, en is dus in Hom gereed om na Sy ewige koninkryk geneem te word. Hierdie oordeel handhaaf die regverdigheid van God om diegene te red wat in Jesus glo. Dit verklaar dat diegene wat getrou aan God gebly het, die koninkryk sal ontvang. Die voltooiing van hierdie bediening van Christus sal die sluiting van menslike genadetyd voor die tweede koms wees. (Heb. 8:1-5; 4:14-16; 9:11-28; 10:19-22; 1:3; 2:16, 17; Dan. 7:9-27; 8:13, 14; 9:24-27; Num. 14:34; Ese. 4:6; Lev. 16; Openb. 14: 6, 7; 20:12; 14:12; 22:12.)

25. Die tweede koms van Christus
Die wederkoms van Christus is die salige hoop van die kerk, die groot klimaks van die evangelie. Die Heiland se koms sal letterlik, persoonlik, sigbaar, en wêreldwyd wees. Wanneer Hy terugkeer, sal die regverdige dode opgewek word, en saam met die regverdige lewendes sal hulle verheerlik en na die hemel geneem word, maar die onregverdiges sal sterf. Die byna volledige vervulling van die meeste profesierigtings dui daarop dat Christus se koms op hande is. Die tyd van daardie gebeurtenis is nie geopenbaar nie, en ons word vermaan om te eniger tyd gereed te wees. (Titus 2:13; Heb. 9:28; Joh. 14:1-3; Hand. 1:9-11; Matt. 24:14; Openb. 1:7; Matt. 24:43, 44; 1 Thess. 4:13-18; 1 Kor. 15:51-54; 2 Thess. 1:7-10; 2:8; Openb. 14:14-20; 19:11-21; Matt. 24; Markus 13; Lukas 21; 2 Tim. 3:1-5; 1 Thess. 5:1-6.)

26. Dood en opstanding
Die loon van d ie sonde is die dood. Maar God, wat alleen onsterflik is, sal die ewige lewe aan Sy verlostes toestaan. Tot daardie dag toe, is die dood ‘n toestand van onbewustheid vir alle mense. Wanneer Christus, wat ons lewe is, verskyn, sal die opgewekte regverdiges verheerlik en weggevoer word om hulle Here te ontmoet. Die tweede opstanding, die opstanding van die goddelose, sal ‘n duisend jaar later plaasvind. (Rom. 6:23; 1 Tim. 6:15, 16; Pred. 9:5, 6; Ps. 146:3, 4; Joh. 11:11-14; Kol. 3:4; 1 Kor. 15:51-54; 1 Thess. 4:13-17; Joh. 5:28, 29; Openb. 20:1-10.)

27. Die millenium en die einde van sonde
Die millennium is die duisendjarige regering van Christus met Sy heiliges in die hemel tussen die eerste en die tweede opstanding. In hierdie tyd sal die goddelose dode geoordeel word; die aarde sal totaal vervalle wees, sonder lewende menslike inwoners, maar deur die duiwel en sy engele bewoon. Aan die einde sal Christus en Sy heiliges uit die hemel na die aarde neerdaal. Die goddelose dode sal dan opgewek word, en sal saam met die duiwel en sy engele die stad omsingel; maar vuur van God sal hulle verslind en die aarde reinig. Die heelal sal dan vir ewig van sonde en sondaars gereinig wees. (Openb. 20; 1 Kor. 6:2, 3; Jer. 4:23-26; Openb. 21:1-5; Mal. 4:1; Ese. 28:18, 19.)

28. Die nuwe aarde
Op die nuwe aarde, waarin geregtigheid woon, sal God ‘n ewige woning vir die verlostes en ‘n volmaakte omgewing in Sy teenwoordigheid verskaf om lewe, liefde en geluk te smaak en om in te leer. Want hier sal God self onder Sy volk woon, en lyding en die dood sal daar nie meer wees nie. Die groot stryd sal verby wees, en die sonde sal daar nie meer wees nie. Alle dinge, sienlik en onsienlik sal verklaar dat God liefde is, en Hy sal vir ewig regeer. Amen. (2 Petrus 3:13; Jes. 35; 65:17-25; Matt. 5:5; Openb. 21:1-7; 22:1-5; 11:15.)